|
|
|
Hallo en welkom. Hier blok ek weekliks.
|
|
Dinsdag, 25 Maart 2008
Die lekker dae in die Kaap is die afgelope tyd onverbeterlik. Windstil, warm dae wat maak lat jy nie anders kan as om die pad te vat af see toe nie. Of dit nou is om ‘n ietsie te gaan drink by Brass Bell, met die branders wat reg langs jou klots, of sommer net met die sambreel en stranddoek af te sit strand toe. Van werk op sulke dae, kan jy vergeet. Dis onmoontlik!
 Uitsig van ons dek op een van daai lieflike dae
Julle! Julle moet help! Ek het nou die dag nog ‘n oulike, fraai dogtertjie gehad en ek weet nie wat het gebeur nie, maar daar is skielik ‘n ander fenomeen in haar plek. Hulle noem dit ‘n tiener. Ek dink nie ek hou van tieners nie. Veral meisietjies. Hulle is erg. Liewe Vadertjie tog – soveel van geite en buierigheid en uitbarstings en seuntjies wat gedurig na haar selfoon toe bel, het ek nog nie in my lewe gehad nie! Kyk, Michaela is mooi van kop tot toon en die seuntjies is mal oor haar. En sy het skielik besef, sy hou van al die aandag.
Hoe nou gemaak? Jy weet, die konserwatisme is destyds in ons in gebliksem. Maar wat daai tyd gegeld het, kom ek nou agter, is glad nie meer relevant in vandag se tye nie. En dis nie dat sy enige iets verkeerd doen nie. Dis net dat ‘n mens nou besef sy betree die era van boyfriends en ventjies(soos my pa hulle altyd genoem het) en jy wil haar so graag beskerm. Haar leer wat ‘n meisie doen en wat sy nie doen nie. Haar leer hoe maklik dit is om die verkeerde indruk te skep, veral as jy seksie is. Maar probeer jy rasioneel wees met ‘n hardkoppige jong adollesent .!!!!! Ek sal regtig enige raad en riglyne hoog op prys stel.
Dit brand nogals baie hier by ons deesdae. Die oorsprong, ‘n informele nedersetting op Red Hill. (Tussen Simonstad en Scarborough) Gisteraand was die rook baie naby en die helikopters het baie laag oor ons huis gevlieg om die vlamme te blus. Dit is senutergend, want ons ateljee is bo in die loft en as ons skielik moet ontruim, sal ons beslis nie al die goed betyds van bo af kry nie!
|
|
|
Woensdag, 05 Maart 2008
HALOOOOOO! HALLIEEEEE! Hiers ek weer. Laaaanklaaaste gepraat. Ek is mos maar so, jong. Dis asof die inspirasie my in sulke vlae beetpak. Ek kry ‘n belustiging vir iets en dan woed ek myself uit en dan soek ek weer iets nuuts. Een van my swakpunte – selfdissipline – om te volhard – toemaar ek werk daaraan – al 43 jaar lank!!!
Baie dankie vir almal se goeie wense en ondersteuning met Razelle. Die meisiekind is ‘n vegter. Sy het geheel en al van haar wonde genees. Al wat nog voeter is die skoot deur die rugmurg. Volgens die dokter sal sy nooit weer kan loop nie, maar sy weier om dit te aanvaar en kan reeds haar linkerbeen beweeg!
Ja, wat kan mens sê van die situasie in Suid-Afrika? Dis hartseer. Baie hartseer. En al wat my pla, is dat daar nie juis hoopvolle vooruitsigte is nie. Dis nie asof mens kan sê “Ag, ons gaan nou deur ‘n slegte patch en dinge gaan beter word nie.” Soos die narre in die regering tekere gaan, kan ons maar net nog ‘n groter sirkus te wagte wees. Ek meen, R8,01 vir ‘n liter petrol????? Hoe gaan ons survive, mense?
Ek en Harold praat nou die dag. Ek dink dit is veral moeilik vir ons generasie – dies wat in die sestigers gebore is en die bloeijare van die sewentigs en vroeë tagtigs beleef het. As kind het ek regtig altyd net die beste gehad. Daar was altyd ordentlike kos op die tafel. Elke aand het ons ‘n goeie aandete geëet met al die nodige voedselgroepe. Ons kon ten minste een maal per jaar met ‘n groot vakansie gaan en so paar naweke in die jaar wegbreke geniet. Baie kinders se ouers het bosveldplasies en seehuise gehad. Ons kon al die buitemuurse lesse wat ons wou gehad het, neem. Om nie te praat van ‘n mooi paar skoene ten minste een maal per jaar nie!
Dit is ‘n ding van die verlede! En dis vir my moeilik om die status quo te aanvaar. Om te weet dat dit oukei is om party aande ham en kaas broodjies te eet, of gebakte aartappels. Ja en ek weet, ek is nog bevoorreg, want daar is miljoene wat nie eens kos op die tafel het nie, maar sien dit uit die lig van ons geskiedenis, van hoe ons gekondisioneer is.
Om vir jou kind te moet sê: nee, jy moet kies – dans of tennis – ek kan nie albei bekostig nie en petrol is te duur om jou elke middag êrens heen te karwei. Om met een bedremmelde sakkie by Pick ‘n Pay uit te stap wat jou net soveel kos as die kruideniersware wat jy en jou ma destyds in twee trollies kon pak!
Is ek ‘n spoilt brat? Moet ek gelief neem met die feit dat dit nou my beurt is om te suffer? Ek dink nie so nie. Want as ek swaarkry, wat van die miljoene wat reeds so arm is? Hulle is die mense wat net nog swaarder kry. Ek het ‘n bediende wat my twee maal per week uithelp. Dis haar enigste werk – sy verdien R120 per dag en ek weet nie hoe de hel sy dit regkry om daarmee uit te kom nie en dit raak nie makliker nie – als word net duurder. En dit terwyl die fat cats blink in hulle swart motors pronk. Vet, dom ape wat nie ‘n saak het met hul landgenote wat by die dag afgemaai en uitgemoor word nie.
But, don’t get me started! Happy thoughts! So rukkie gelede het ek mos geween en gemor oor ek wat nie weet wat ek met my lewe wil doen nie. Wel, jy sal bly wees om te hoor dat daar intussen darem ‘n lig aangegaan het.
Ek gaan my begewe in persoonlike sangopleiding. Ek meen, ek is mal oor sing – ek het nogals baie geleer deur die jare en ek luuuv dit om kennis met mense te deel en te sien hoe die liggie vir hulle aangaan. So daar! Ten minste sal ek so my passie vir musiek nog vir baie jare kan uitleef en self aanhou leer en groei. Sien, ek weet nie of ek weer ‘n album sal vrystel nie. Ek pas ongelukkig nie in die huidige kommersiële mark nie. En die punt van die saak is – dit kos geld om ‘n album op te neem. As iemand bereid is om daarin te investeer, verwag hulle opbrengs en ek kan dit ongelukkig nie waarborg nie. Ek is ook nie in die luukse posisie om myself te finansier nie – dit is die realiteit en ek moet daarmee saamleef. Gelukkig betwyfel ek nie my talent nie – ek was seker maar net nog altyd op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.
KOMMENTAAR
Amanda, Hi. Ek en my gesin geniet jou musiek geweldig en moet se jy het werklik n goue stem. Net een ding wat my pla en dit is hoekom daar nie meer albums van jou is nie. Jy moet n goeie rede he. Wel jy is nog jonk en jou stem is nog net so mooi en ek glo jy kan dit doen. Jy is geseend met n wonderlike stem. Hoop om meer van jou te hoor. Glo en vertrou en die Here sal vir jou nuwe deure oopmaak en jou verseker tot die hoogste hoogtes neem. Ek bid vir julle. Groete. Marius
Dit was nou een groot plesier op my Son middag in hier in NZ om kennis te maak met Amanda die vrou agter die die STEM op die CD's. Soos ek voorheen gesê is ek 'n groot, groot fan vir al baie jare. Ek is bly dat Jannie nie jou persoonlike gunsteling op die CD was want ek het gedink dit is baie kommersieel en lig. Ek wil daarby geensins afbreek doen aan die sukses wat jy daarmee behaal het nie. Maar ek het van die ander nommers op jou CD baie meer geniet veral omdat dit bietjie meer jou stem en sangtalent ten toon gestel het. Veral Ave Maria omdat heel anders was as jou vorige nommers. By the way die video het ek baie geniet. Jy kan aflei dat ek maklik meegevoer kan raak oor hierdie onderwerp en daarmee sal ek dan afsluit.
Bly om te hoor dit gaan beter met Razelle. Ek sit toevallig hier in Nieu Zeeland op 'n Sondag middag en luister na een van jou Cd's wat ek spesiaal bestel het van SA. Sien ek is 'n groot, groot fan. Ek sien jy het nie planne om binnekort ? weer 'n CD vry te stel nie. Jammer om dit te hoor, ek kan nie verstaan hoekom die mense nie jou CD's op hope koop nie. In my beskeie opinie is jy die beste en mees talentvolle sangeres van jou generasie. Jy het so 'n besonderse warm suiwer stem. Baie sukses toegewens met die nuwe rigting in jou musiek loopbaan.
Julian de Beer
Ek dink die een feit wat ons regering en baie ander maar nie wil 'face' nie, is - ons land en die wêreld is oorbevolk. Ek luister gereëld Prof. Tertius Harmse se Omgewingspraatjie op RSG en hy het dit al baie gesê. Daar is eenvoudig nie genoeg van alles in die wêreld vir almal nie. Al kan ons vir almal, die armes ook, genoeg geld gee, sal alles maar net binne 'n dag uitverkoop wees. Aan jou talent hoef jy beslis nie te twyfel nie! Jy moet maar net aangaan. Die ding van kommersieel of nie kommersieel nie is seker maar moeilik - is Laurika se materiaal wat sy so sorgvuldig kies bv. so kommersieel? Tog verkoop haar CD's darem seker? Sing maar net jong, sterkte en groete! Chris
Welkom terug. Gans wonder jy werk so ongereeld aan jou blog nie, jy beleef seker jou middeljarige krises. jou arme man. is baie bly dat met jou niggie Razelle, beter gaan. Wat kan ons eientlik oor ons piesang republiek se? Net ons koppe skud in ongeloof, Onthou die ou dae toe melk duurder as petrol was. en nou gaan petrol dalk weer met n rand op, volgende maand. Ai, nou sal ek nie meer so gereeld Namibia toe kan gaan nie. Amanda, jou tyd as sangeres, is nog lank nie verby nie. Kyk net hoe lank is Ge Korsten nog gewild. Jy kan dit ook doen. kom van dieselfde generasie as jy. Groete! NS.Hou die blinkkant bo! Kobus
Stupid mark... Johan Swarts
Ekt jou stukkie gelees van 5 maart, en lekker om te hoor dat ons almal op een of ander manier dieselfde dink en doen en voel, tenminste is jy eerlik, andere te bang om hul menings te lig....lank lewe jou lig sin vir humor, en ja hou so aan!! Gepraat van jou sangloopbaan, ek dink persoonlik jy kan sing en ek luister elke dag na 'n CD "30 grootste liefdestreffers" wat ek in my gaste huis speel vir gaste, en onder andere is die een liedjie van jou my gunsteling,"as jy aan eendag glo" (en so die waarheid ons almal glo tog aan eendag, al lyk alles nou so donker en deurmekaar) en as ek dalk my mening kan lig....sing meer van die soort liedjies, dit pas jou en dit het vir jou jare voorheen gewerk, en waarom ander goed uitbring of sing as dit wat vir JOU gewerk het!! Doen so voort en sterkte, sit 'n huppel in jou stap en sing die land aan die brand!!!..... Amanda van Muizenberg in die Kaap!
|
|
|
Dinsdag, 05 Februarie 2008
Dis half agt in die oggend. Ek is besig met koffie en regmaak om Kyla skool toe te vat. Die telefoon lui. Dis my ma. Sy wil my net laat weet dat my pragtige 18 jarige niggie – pas uit matriek, met agt onderskeidings, vol drome en ideale, gisteraand vyf keer deur ‘n rower in haar ouerhuis in Moreletapark, Pretoria geskiet is. In die long, maag, rugstring, arm en bors.
Ek word yskoud. Die monster het eers haar pa gewond en daarna doodluiters na haar kamer gestap en sy rewolwer op haar leeggemaak. Point Blank.
My brein wil dit nie verwerk nie. Dis onmoontlik. Ons het dan net Desembermaand saam met haar gekuier in Kalkbaai! Ek voel hoe die absolute magtelose woede in my opstoot. En ‘n vrees. Ek wil vlug. Hier is nie meer plek vir my nie. Vir niemand wat Wit is nie. Ons word een vir een uitgemoor en almal trek net skouers op. Ek voel soos ‘n alien in my eie land. Ons verarm by die dag en die toekoms hou nie noodwendig opwindende vooruitsigte in nie. Alles dié flits deur my kop, terwyl ek al hoe naarder raak.
Ek loop soos ‘n spook in die huis rond. Prys die Here, Razelle het die aanval oorleef. Sy is in intensief en moet die gevolge van die trauma op fisiese en psigiese vlak begin verwerk. Die koeël wat die rugstring getref het, het skade aangerig. In hoe mate, kan daar nog nie nou bepaal word nie.
Sy was besig om te pak toe die voorval plaasgevind het. Sy sou vroegoggend Kaapstad toe vlieg om by haar vriend te kom kuier. Sy sou binnekort Frankryk toe vertrek het, waar sy vir ‘n paar maande au pair-werk sou doen, voordat sy met haar mediese studies sou begin. Nou gaan sy dalk van voor af moet leer loop…..
Die wil van die Here? Dat sy leef. Ja. Die aanval? Nee. Hoe lank voor jy of jou kind of jou geliefde ook ‘n statistiek word? Moet mens hoop en bid dat dit nie met jou gebeur nie? Sy en haar familie het.
Lees die volledige storie in Beeld.
 Razelle Botha
KOMMENTAAR
Baie sterkte vir jou en my bede is met Razelle! Ek is hartseer oor my land (al sit ek in die vreemde). Nie eers meer kwaad nie...net baie hartseer. Ons kan nie meer die realiteite ontken nie. SA is 'n absoluut abnormale gewelddadige samelewing en dis om van siek te word!!! En die regering het nie die vermoe of die politieke wil om die slagting stop te sit nie! boerinballingskap
Dit is verskriklik. Ek was nog altyd redelik positief, maar nadat ek onder meer die laaste twee weke se Rapport gelees het, is my hoop vir hierdie land al minder. Sulke dinge is so verskriklik skokkend. Daar is nie meer respek vir lewe hier nie; daar is nie meer respek vir hoër waardes as die mees basiese en mees dierlike nie. Tannie Koeks Vogelsang
Amanda, dit is hartseer dat sulke goed oor jou lewe kom. en jou familie. Jy en jou niggie, Razelle is sulke mooi pragtige vroue. Ons bid vir julle, vir herstel. Mag onse Almagtige Vader jul hande in Sy hande vat, jul onderskraag, vertroos, genees en geestelik lei. Baie sterkte word jul toe gebid. Laat weet asb hoe dit verder gaan. Is geskok deur die sinlose geweld in die land, en ons blankes bly passief. Kry Steve Hofmeyer om n optog te reel. Dit is ook ons land! Sterkte! Groete.Kobus
|
|
|
Vrydag, 18 Januarie 2008
Oukei, oukei – ek moet seker weer aan die gang kom…..Baie voorspoedige nuwe jaar vir jou en jou geliefdes. Almal sê 2008 gaan ‘n gr8 jaar wees. Ek hoop so. Ek het geen voornemens nie. Nada. Nul. Die jaar lê voor my soos die blênk bladsy van die wordpad waarop ek nou tik. En vir die eerste keer het ek nie die vaagste benul waarmee ek die bladsy gaan volmaak nie. Nuwe jare was altyd vir my lekker – vars, nuut, die tyd om dooie takke af te sny, om nuwe botsels te koester en nuwe saad te saai. Maar hierdie keer is dit anders. I’m out of ideas, folks! Ek het darem al my huis ge-dejunk. Dis seker ‘n begin.
As ek terugkyk na 2007, voel dit vir my of ek bloot ‘n toeskouer was. So asof ek van buite na myself en als rondom my gekyk het en waargeneem het sonder enige betrokkenheid. Sonder enige gevoel. Geen energie om op te staan en te veg vir dit wat vir my belangrik is nie. WTF. Die uiteinde is dat ‘n mens die sin vir jou eie identiteit verloor. Jy onderdruk dit wat jy weet jou laat tiek, want jy is vuisvoos gebaklei.
En so het 2007 oorgegaan in 2008 – net nog ‘n volgende dag – ek het nie op die eerste Januarie skielik nuwe inspirasie gekry of ‘n borrellende opbruising van energie ervaar nie – net die wete dat nog 365 dae voor my lê en ek het nie die vaagste benul wat ek daarmee gaan maak nie.
Miskien is dit ‘n goeie plek om te wees. Spiritueel. Miskien gee dit dan vir God die kans om my oë te vestig op dit wat Hy van my verwag, sonder my alewige geinmengery. Miskien is dit deel van die proses om my te dwing om daai pynlike selfondersoek te doen. Om die moed te hê om die dooie takke te identifiseer en te snoei……Miskien is dit net bloot ‘n cop out….?
Jy het seker jou polse nou al halfpad afgekou of jou stomp minoras nadergetrek. Skies man, maar ek moes iets skryf. Almal wil weet wat van my geword het. En op hierdie bladsy is ek vrek eerlik. Dis hoe dit is! (sonder Steve – ha-ha!)
P.S. As jy dalk enige idees het, laat my weet. Dalk kan ek ‘n kompetisie loods: “What will Amanda be doing in 2008?” en die persoon met die beste idee kan ‘n hele boks van my cd’s wen!!!! Jipiekajy!
PPS. Ek moet darem ook net byvoeg dat ek baie trots is op my dogtertjie. Sy is uit die hele land gekies as een van sewe kinders wat die “klas” uitmaak van die Suid Afrikaanse “Are you smarter than a 5th Grader” . Die program loods op Sondag 27 Januarie op Mnet, tussen 6nm en 7nm. Michaela sal vanaf program 4 te sien wees.
KOMMENTAAR
Hi Amanda, ek is bly om jou terug te sien, beste wense ook vir 2008! Ek het net voor ek met verlof is so 'n vinnige versie geskryf om te wens almal kom veilig tuis en so aan, so lees gerus sommer daardie wense van my ook: http://mykopop.wordpress.com/2007/12/12/geen-slaggate-no-potholes Wel, ek het vir jou 'n idee. Begin om ons gewone mense se blokke te lees. Daar is selfs 'n dominee (Ds. Attie) wat dit doen om bietjie in gewone mense se koppe in te kom. Begin bv. by my blokkerol op my blog en dan as jy die skakels van daar af volg, kyk weer op die ander ouens se blogrolls. Ek is seker jy mag dalk bietjie inspirasie vind! Sterkte.
Dankie Kop op 'n Blok. Ek het gedog ek is ok ‘n gewone mens…….?A
Halo Amanda my kind.....jy lyk bietjie asof jy nie lekker weet waar jy is en waar jy wil wees nie. Jy kan altyd by Oom Piet hier oppie plaas kom kuier. Ek het die heerlikste speelgoete wat mens aldag kan besig hou. 'n Trekker, baie koeie om te melk en my ou gunsteling....die windpomp. Kyk, Oom was maar nog altyd een vir 'n pomp. Ek kan al dag sit en staar na die gepompery en tesame met 'n ou knertsie en 'n ou rookdingetjie, gaan die dag sommer vinnig verby. Kom nou my ding, kom maak 'n draai hier oppie plaas, dan pomp ons saam. Liefde Groete. Oom Piet.
Dankie Oom Piet, maar ek is ongelukkig nie tegnies aangelê nie. A
Hehehe, hoe wens ek nou ek kon aan 'n wen idee dink waarmee jy jouself kan besig hou. Paar musiekvideos maak? 'n Konsert of tien? SCUBA in die Rooi See, pose vir so paar tydskrif voorblaaie, hangglide van Tafelberg tot Robbeneiland, 'n besoekkie aan Antarktika?? Voorspoed either way! P.S. Dalk moet ek dit oorweeg om actually 'n sinvolle bloginskrywing te maak en jou te interview daarvoor??Da Mario.
'n Onderhoud?! Dit klink na 'n bak plan!!!!!! A
Welkom terug, het al begin wonder of die Kaap se winde jou na een of ander eksotiese plek gewaai het! Hmm..ek dink jy is dalk op die beste plek waar mens kan wees. Te veel het ek al gesien dat as mens met al hierdie nuwe jaar voornemens begin, is jy so teleurgesteld aan die einde van die jaar en voel jy net nog meer skuldig omdat jy toe nooit daarby uitgekom het nie! Het jy ooit die movie "No Reservations" gesien, dit wys nou in springhaasland (Australië) maar ek dink dit kan dalk al daar by julle ook wys. Dit gaan oor hierdie fanatiese kok (Catherine Zeta-Jones) wat vir haar sielkundige sê dat sy wens so sy kan 'n resepteboek vir die lewe ook kry, sodat sy die resep presies kan volg en so nie foute maak nie, haar sielkundige antwoord haar toe met die wyse woorde dat die resepte wat jy jou eie maak deur te improvisieër, kom gewoonlik die lekkerste uit! Lekker bak en brou die jaar! Groete Tania van Oz
Hello Amanda - dink jy moet vir die klomp Boer-aussies hier in Perth kom kuier. Ek het op jou blad beland met 'n link van boernale, en toe ek Blue Bayou begin speel sê silwer delange (my "partner" soos ons hier in aussie praat) dadelik "dis amanda" daar waar sy in die bed lê en lees.Gerry West
|
|
|
Dinsdag, 27 November 2007
Skies, ek is skaars, maar ek dobber op die oomblik bietjie. Midlife crisis. Nog een. Dis altyd die tyd van die jaar. Ek haat dit. Jy kom skielik tot die besef dat die jaar verby is en jy wonder wat het jy nou eintlik gedoen? Wat gaan jy doen? En dit laat my so effe ongemotiveerd voel. Lus vir niks. But I suppose I have to snap out of it....Kom ek praat oor lekker goed.

Ons was aan die begin van November vir 'n wynproe by Groote Post. Die bekende wynkenner, Johann Crafford, doen elke maand die rubriek, Buite met Bacchus, vir Die Burger. Vir die rubriek, nooi hy 'n glanspersoonlikheid (ek glans hoor!) na 'n wynplaas en 'n vreeslike geproeëry vind plaas. Dan moet jy nou sê watse wyne vir jou die lekkerste was en hoekom. My gereelde bloklesers weet natuurlik teen die tyd dat mamma haar wyntjie laaik. En pappa. So, ons is toe met groot opgewondenheid vort na Darling Heuwels se kant toe. Het al voorheen van Groote Post se wyne gedrink en die "voorsmakie" het natuurlik 'n groot bydrae gelewer tot ons geesdriftige bui. Om nie te praat van die feit dat ons nog met 'n middagete uit die boonste rakke trakteer sou word nie. Kyk, twee varke in Palestina kon nie meer in hul noppies wees nie!
Ek het die kar spesiaal laat was en poliesh, want van al die staan in die son en wind en weer, lyk hy nie meer te hôt nie en mens wil 'n goeie indruk maak, jy weet. Foutjie. Jy ry grondpad om by die plaas uit te kom en teen die tyd toe ons daar stop, toe is al die swart gesjaainde trimmings bruin soos die stof daaraan vasklou en die taaiers lyk soos daai outydse wiele wat so 'n wit streep aan die buitekant het. So much vir indrukke..
 Harold, ek, Lukas en Nick
Nietemin - dit het nie vir lank saakgemaak nie, want ons is hartlik ontvang deur die wynmaker, Lukas Wentzel, Nick Pentz (hy is nou al die vierde geslag Pentz op die plaas) en 'n lieflike Cap Classique wat eers later sy verskyning op die winkelrakke sal maak. En Lukas is nie suinig nie. Jou glas is skaars leeg, dan borrel die nuwe skinksel op in die kelk - 'n man so na mammie se hart! Nadat hy seker gemaak het dat al die stof afgesluk is met 'n paar glasies borrel, begin die proeëry toe in alle erns.
'n Stuk of ses witwyne, waarvan die Sauvignon Blanc 2007, Die Reserve Sauvignon Blanc 2007 en die ongehoute en gehoute 2006 Chardonnays vir my die hoogtepunte was. Na die lywige geproe aan die witwyne is daar toe besluit om die res van die rooiwyne saam met die middagete te gaan smaak. Dis nou pappie se kos. Vir hom was dit natuurlik die Shiraz 2006 en ons almal het saamgestem dat die Merlot 2006 is to die for! Dit proe soos sjokolade. Gaan NOU en gaan soek vir jou 'n paar bottels van die Groote Post Merlot 2006 - dis 'n ervaring, ek beloof jou!
Die kos was uitstekend en Lukas en Nick voortreflike gashere. Ons het oor en oor geproe aan die lekkerstes, geëet, gelag en gesels (ek natuurlik heel uitbundig!) en is kort voor donker met 'n dosyn of wat bottels op die koop toe, in ons stofbeplakte karretjie t'rug huis toe. Wat 'n genotvolle dag. Ek sal so kan leef. Dankie Johann!
Ek beveel 'n besoek aan die wynplaas ten sterkste aan. Dis sowat 30km anderkant Melkbosstrand op die R27 (Weskuspad). Daar is duidelike borde. Die restaurant, op die plaas, se naam is Hilda's Kitchen en blykbaar moet mens maar liefs bespreek as jy van plan is om daar te eet. (022 492 3430)
Dan moet ek ook eers bietjie spog. My dogter, Michaela, is in Fish Hoek Primary. Hulle drama departement neem elke jaar deel aan 'n groot kompetisie wat by die Waterfront gehou word. By hierdie geleentheid tree skole van regoor die Kaap op en ding mee om 'n kontantprys van R20 000,00 vir die skool. Hulle was hierdie jaar weer die trotse wenners en Michaela het die geleentheid gehad om 'n solo te sing. Wouldn't it be Loverly uit My Fair Lady. Sy was so oulik - so nootvas en 'n suiwer stem - ek was soooo trots!
PS: Ten laaste moet ek net ag dankie vader sê vir die vars briesie wat op Maandae-aande op Kyknet ingewaai het: O’se Distrik 6. Ek dink dit is ‘n heruitsending, maar hoe lekker is dit om na ‘n interessante vermaaklikheidsprogram te kyk waar mens nog WARE talent kan ervaar! Dis ou toppies, maar hulle kan sing – baie beter as meeste van ons huidige sogenaamde “sterre”. Welgedaan vir ‘n uitstekende program!
KOMMENTAAR
Ek's bly julle het GP geniet. Dis pragtige wereld en die wyne werklik lekker (soos jy agtergekom het). Lukas is 'n vriend van my is seker een van die aangenaamste persoonlikhede in die wyn-industrie.boerinballingskap.
Ja, voorwaar - Lukas se goeie reputasie loop hom ver vooruit!A
|
|
|
Dinsdag, 13 November 2007
Ek sal nooit ophou om my te verwonder aan die avontuurrit van die lewe nie. Net as jy dink jy't ge-arrive, jy't uiteindelik jou lewe uitgesort, dan doem daar skielik 'n angswekkende, skerp es of 'n helse opdraand voor jou op. Om nie te praat van die duisligwekkende hellings na benede nie! En dan,net as jy gewoond is aan die uiterstes, dan is daar skielik 'n reguit stuk.
Tipiese Ram wat ek is, hou ek daarvan om my lewe uitgesorteer te hê. 'n Plan van aksie, jy weet. Die 5W's en 'n H: Wie, Wat, Waar, Wanneer, Waarom en Hoe - daai goed moet ek duidelik vir myself uitgemaak hê, anders voel ek verlore, nutteloos. Nou wat dink jy gebeur as ek 'n vervelige, reguit stuk tref? Ek panic. En dit is opmerklik hoeveel van ons terugdelf in ons grootwordproses vir sekuriteit - die goed waarin ons ma's en pa's geglo het - die denkprosesse en elemente wat vir so lank 'n veilige hawe gebied het. Dit is amper soos 'n fopspeen -dit sus jou weer terug - gerus in jou boksie. Ek's oraait - hier gaat ek maar weer.
En dit bring my by my eintlike punt. Daar kom tye in jou lewe wat dit oukei is om nie oraait te wees nie. Waar dit goed is om op 'n vervelige, reguit stuk pad te wees. Ek is nou weer daar. En ek wonder hoekom ons nooit geleer is om ook sulke tye te omarm nie - om dit te koester. Soos my ouma Marie altyd gesê het: "Sometimes I sits and thinks and sometimes I just sits" Hoekom is ons nooit geleer dat dit net so belangrik is om soms net te sit nie. Om te wag. Die grootste veldslae is al gewen deur te wag - dis asof die wag jou perspektief gee om die "regte oomblik" duidelik raak te sien. Amper asof dit jou 'n kykie in die toekoms gee. Daar voor wag die op- of afdraand - hy kom - daarvan kan jy maar seker wees.
En dit is vir my een van die groot euwels van die samelewing. Als is gerat vir maksimale "effektiwiteit" Daar is nie tyd om te wag dat iets moet gebeur nie - jy moet dit laat gebeur. En in daai proses word ons afgestomp -ons word gedwing om terug te val op ou maniere van doen en dink, want daar is nie tyd om oor nuwes te tob nie - terug, terug in jou boksie! Gou! Anders is jy verlore - 'n la-hoo-ze-her!
Ek voel sommer al weer hoe my keel begin toetrek en ek dink naarstigtelik aan planne - Wat, Waar, Wanneer, Wie en Hoe? Nee. Stop. Wag...
|
|
|
Donderdag, 25 Oktober 2007
SLANGE
Nee, ek bedoel "the real thing" - nie wat jy nou weer gedink het nie! Elke dag ry die slangvanger se bakkie by my verby en dan wonder ek of hy hier bly en of hier baie slange is. En dan wonner ek ook, wat doen mens nou as, sê nou maar, 'n pofadder jou of jou kind of iemand in jou familie pik. Jaag jy na die naaste hospitaal, bind jy 'n toerniket om, suig jy die gif uit? Hou jy teengif in jou huis aan? Ek meen, hoeveel keer bepeins jy die moontlikheid van 'n slangbyt in jou alledaagse lewe.
Laat my dink aan toe ons op die plot gebly het in Pretoria. Dit was in die bosse, so mens het baie gou gewoond geraak aan allerlei goggas en gediertes. Slange ook. Een dag, toe stap ek in die badkamer in. Rondom die bad was daar 'n groot area wat geteël was met swart gruisteëls. Smiddae het die sonnetjie by die venster ingeskyn en die area lekker warm gebak. Ieder geval, ek stap toe in om my hande te was en die volgende oomblik, toe vang 'n beweging my oog. En daar staat hy regop - ta se kind - n helse groot rinkhals en ek meen groot en lank! Ek skrik my natuurlik in so adrenalienrush in, dat ek met een sprong uit die badkamer, deur ons slaapkamer tot in die gang spring! Was dit vir jou 'n storie om die ding gevang te kry - het die hele middag en omtrent vyf mense gevat.

Op 'n ander dag, sit ek en Harold buite en ek loop gou na binne die huis om iets uit 'n kas te gaan haal. Nou is my oë half blind van die skerp sonlig en ek probeer nog so fokus in die donker kas, toe ek skielik 'n blinkerigheid net effe sien beweeg. Ek klap daai kas net daar toe, want ek weet toe sommer. Roep vir Harold om te kom ondersoek instel. Hy pak die hele kas uit. 'n Paar paddas (ja, hulle was ook die hele huis vol) later, se hy: "nee man, jy't jou verbeel - dit was seker net 'n padda". Sy woorde was skaars koud, toe seil meneer so ewe rustig uit 'n skoendoos - nog 'n rinkhals!
Of wat van die keer toe ons gou iets in die ateljee wou gaan haal. Nou, die ateljee was ook donker en mens moes 'n paar trappies aftrap om van die vlak van die huis na die ateljee se vlak te gaan. Harold maak die deur oop en is so halfpad oppad af - in die donker, toe iets net vir hom sê om die lig aan te sit. En raai wat lê reg onder die trap op die grond? 'n Pofaddertjie – so reg daar waar hy sou trap!

Dit was nou behalwe die Egiptiese kobras en ou Frikkie. Frikkie was 'n klein rooilippie wat homself in ons slaapkamer tuisgemaak het en ons besluit toe om vir hom 'n ding te kry waarin mens slange aanhou. Vir die kinders, jy weet, sodat hulle kan sien hoe hy leef en hom voer, ensovoorts. Dit het natuurlik groot pret afgegee, want dit was 'n daaglikse soektog na klein akkedissies en die avontuur om hulle te vang en in ou Frikkie se slangkwarium, of wat ookal mens dit noem, te gooi. En dan natuurlik om te sien hoe hy die arme akkedissie vang en verorber. In elk geval, eendag toe kry ons so piepklein molletjie met groot tande in ons bad - verkeerde bad, want sy lot is toe sommer dadelik beklink. Prooi vir Frikkie. Toe ons later die middag tuiskom en kom verneem of Frikkie al geëet het, toe begroet die alleraakligste grutoneel ons. Daar lê Frikkie eenkant, morsdood - sulke stukke uit hom gehap en die molletjie doer annerkant met sy ou pootjies stokstyf in die lug. Vind ons toe later uit dat daai eintlik 'n volgroeide dwergmol was en sy boosaardige tanne was net een te veel vir arme Frikkie. 'n Geveg tot die dood.
Ons bly tans nogal hoog teen die berg op, tussen die fynbos, maar ek het nog nie baie slange teëgekom nie. Dit maak dat ‘n mens, anders as op die plot, nie eintlik bedag is daarop nie. Maar hulle is beslis hier rond – anders sou die slangvanger nie ‘n bakkie gehad het waarmee hy rondry nie…….
KOMMENTAAR
Kan ek net meld ... dat terwyl ek jou "sliertige" slangstories lees my hart so mis - mis en die bloed my liggaam so wil - wil verlaat ! Jy is beter as ek .... sou lankal aan 'n tekort aan asem en doodeenvoudige "oormatige" spanning omgekap het soos Frikkie en die tydelike met die ewige verrruil het ! Het 'n absolute dood aan slange .... en for that matter enige ding met skubbe, torings op sy kop of 'n punt tong !! Neelsie
Nee koot, ek en slang is ook nie maatjies nie. Ek gril my simpel toe ek jou post lees. Een van die mans wat saam met my werk, is 'n geregistreerde slangvanger en as daar moeilikheid in die Kaap is, kan hulle hom dadelik bel vir hulp of om die 'arme dingetjie' te kom red. Partykeer dan bring hy nog die ding kantoor toe ook! Roer
Grillerige stories wat jy hier skryf! Ek het ookal my kwota van slang-ekskapades gehad. Snaaks genoeg is ek versigtig, maar ek het nie regtig 'n vrees vir die goed nie. My mooiste slang wat ek al gesien het, was 'n groot luislang by Spitzkoppe in Namibie.Boer in Ballingskap
hehe, hoe weet jy nogal waaraan ek gedink het?Johan Swarts
Die mag van 'n falliese simbool!A
Ek lees nog so lekker jou inskrywing oor die vreeslike grillerige gedaantes, toe ek af"scroll" en hier sit TA!! en loer vir my! Ek gooi amper my "muis" dat hy doooeeer trek! Nee man, jy kan my nie so laat skrik nie Amanda!!Rene Boshoff
|
|
|
VERF EN TROFFELTRIEKS
My onlangse grimeerfondse
Almal bo veertig (wat nie plastiese
chirurgie kan bekostig nie) is naarstigtelik op soek na trieks om 'n
mens jonger te laat lyk. Ek glo dat grimering 'n lang pad kan kom om
foute en tekortkominge te verbloem en 'n illusie te skep. My jongste
en beste fonds ooit, is Bobbi Brown se grimering. Tans net in
groot Edgars-winkels te kry. Dis duur, maar glo vir my ,dit werk! Ek
spandeer baie geld op die basiese - dit is verbloemers (concealers)
en onderlae. Glo dit of nie, maar ek het vreeslike pigmentasie (dis
wonderlik wat photoshop aan 'n mens se foto's kan doen.) Dus, is coverage
nog altyd vir my 'n probleem, want hoe meer 'n mens die goed probeer
toesmeer, hoe gryser lyk jy! Toe ontdek ek Bobbi Brown Oil Free Even
Finish Compact Foudation.Dit is 'n olievrye onderlaag, maar met
'n silikoonbasis - dus stryk dit plooitjies uit en BLY op jou vel. Die
KKNK se hitte was die toets vir my! Dan het sy ook 'n corrector
en concealer wat 'n mens onder die oë aanwend - 'n instant face-lift!
Gaan besoek gerus haar toonbank by 'n Edgars naby jou (Eastgate, Sandton,
Waterfront, Canal Walk) en laat die assistente jou grimeer - dit is
'n heerlike ondervinding.
Nog iets wat ek ontdek het so
met al die grimeerkunstenaars saam is Mac se Prep and Prime.
Dit het ook silikoon en 'n mens kan dit onder jou onderlaag aanwend
- dit stryk ook plootjies en oneweredige vel uit en laat 'n meer gladder
voorkoms.
Die beste is natuurlik Preperation
H - die aambeisalf as oogsalf.
Laat jou dokter gerus ook vir
jou Renova voorskryf. Dit bevat Tretoïene, wat selregenerasie
versnel - jy druk 'n ertjiegrootte in jou hand uit en meng dit met jou
bevogtiger en wend dit soggens en saans aan.
Vir mense, soos ek, wat gou pigmentasie
vorm, Photoderm Max se SPF 100. By apteke. |
|
|
KUIER EN EET
Almal wat vir my en Harold ken, sal weet
dat een van ons groot swaktes lekker kos en kuier is! As daar een ding
is wat my vreeslik kwaad maak, dan is dit om 'n fortuin te betaal vir
kos wat soos die hond se gat smaak! Ek kan dit soms nie kleinkry hoe
restauranteienaars hulle kliënte so kan onderskat nie. En ek bly nie
stil nie - ek weier bloot net om te betaal vir swak kwaliteit kos. En
dis nogal iets wat 'n mens hier in die Kaap baie kry. Glo my, Gautengers
- een goeie ding van waar julle bly - julle het prima restaurante! Seker
maar die druk - hier in die Kaap is daar 'n algemene naafgatgeit - en
dit reflekteer duidelik in die restaurantbedryf. Veral tydens die af-seisoenmaande.
Hier volg 'n paar plekke in die Kaap wat konsekwente kwaliteit lewer:
(Neem in ag - ek bly in Simonstad - ver
van Blouberg en die Weskus af en ons Kapenaars is baie lui vir ry -
veral omdat 'n mens in die aand met 'n gekuierde lyf oor die bergpasse
moet ry....)
Hierdie is die beste waarde vir geld in die Suide...
FISHERMAN'S - KOMMETJIE
Beslis "the best kept secret" hier in ons geweste. Met eerste oogopslag lyk dit maar effe, maar hulle
seekos is heerlik en BAIE billik.
WANG THAI - Constantia en Groenpunt (nog steeds DIE BESTE vir Thai!) Veral die Beef Basil - my gunsteling!
PRIMI PIATTI - Houtbaai, Blouberg, Canal Walk- (altyd konsekwent)
MARINERS WHARF - Houtbaai - (Die beste vir seekos - vis ook vars van die hawe)
CODFATHER - Kampsbaai - (Miskien nie so grênd setting nie, maar kos uitstekend)
CAPE TO CUBA - KALKBAAI - vir die
beste cocktails. Die restaurant is baie interessant, omdat die eienaars
al die oudhede self bymekaarmaak en als is bykans te koop. Maar ek het
die kos nie te opwindend gevind nie en dit hulle is pricey.
LIVE BAIT - die vis van die dag en die calamari met die kerrie-degie en tarragon mosterd is baie lekker. Die sushi kan partykeer maar bietjie dodge wees
POLANA. Hulle is tans besig met verbouings en sal glo eers weer van Augustus 2007 oop wees.
THE FOOD BARN - NOORDHOEK - Die sjef is van La Colombe - lekker vir ligte middagetes - wel duur.
MAMA ROMA - MUIZENBERG - OLD MILL - verbasend lekker vir italiaans
Bietjie duurder, maar beslis die moeite werd:
HAUTE CABRIERE - FRANSCHOEK
LE PETITE FERME - FRANSCHOEK
HAIKU - KAAPSTAD
Plekke om te vermy:
BRASS BELL - KALKBAAI (Miskien ok vir drinks, maar die kos suck en die plek is smelly!)
BERTHA'S - SIMONSTAD ( Vir die toeriste - mediocre kos en baie duur)
BLACK MARLIN - MILLERS POINT (Dieselfde as bg)
TIMELESS WAY - KALKBAAI
NAG'S HEAD - NOORDHOEK
TELEURSTELLINGS
THEO'S - nadat ek so oor hulle gerave het, het ons weer 'n paar keer daar gaan eet en ek was erg teleurgesteld. Ribs droog en die vleis ook nie regtig op standaard. Wat is dit met die Kaap en konsekwentheid??
Kom ons vul die lys aan. Laat weet asseblief van plekke wat julle goeie of slegte ondervindings gehad het! Konsekwentheid
speel hier 'n rol! |
|
|
WYNKEUSES
Ons is baie bevoorreg om 'n deli net 'n entjie van ons af te hê wat spesialiseer in landgoedwyne. Dit is natuurlik nie so gaaf op die sak nie, want wie kan nou 'n lekker wyntjie los vir more se drink ook. Ek lees nou die dag Martha Stewart sê: " A good idea for leftover wine - freeze as ice cubes for later use in stews and sauces." In my geval: "What leftover wine????" In elk geval, ek het die wyne ontdek wat regtig die moeite werd is
L'AVENIR CHENIN BLANC
FAIRVIEW SAUVIGNON BLANC
SPICE ROUTE VOIGNIER
RIDGEBACK VANSHA WHITE (SAUV BLANC, CHENIN BLANC EN VOIGNIER-VERSNIT)
REMHOOGTE ESTATE BLEND 2004
REMHOOGTE AIGLE NOIR 2004
VONKELWYNE
Ek is 'n GROOT Achim von Arnim-fan en
sy Cap de Classiques is by verre my gunstelinge:
PIERRE JOURDAN se
BLANC DU BLANC
BRUT SAVAGE
BRUT
BELLE ROSE
CUVEE RESERVE
En dan is daar natuurlik die PIERRE JOURDAN
RATAFIA, 'n aperatief (a fortified
chardonnay 40% alcholol)Nie ietsie wat jy ligtelik moet opneem nie.
My broer het jare by Haute Cabriere gewerk, die landgoed waar PIERRE JOURDAN
gegroei word en volgens hom is Ratafia in nageregte baie gesog, soos
Ratafia Creme Brulée, Ratafia jellie, ens.
MORESON CAP CLASSIQUE
JC LE ROUX LA VALLEE
VILLIERA CAP CLASSIC
My vriend, Jan Egging, van Nederland het die volgende laat weet:
Mousserende Wijn(als betaalbaar alternatief voor Champagne) van het Jaar: 2005 SIMONSIGKAAPSE VONKEL BRUT |
|
|
MUSIEK
Julle, waar gaan musiek heen? Ek en Harold gaan download toe mos nou die aand 'n hele spul nuwe goed en meeste daarvan is absolute oninspirerende gemors. Onder die gemors tel: Mika(very gay, afgewaterde Queen-sound),Kaiser Chiefs, Fall Out Boy, The Killers(so wannabe Alphaville - shame!), Scissor Sisters, ag, ek kan aangaan en aangaan
Wat wel uitgestaan het in terme van produksie is Justin Timberlake ( al gril ek my dood vir die mannetjie!), Nelly Furtado, Fergie, Beyoncé en Robbie Williams(kan sy gesiggie ok nie handle nie)
Helaas, het ek maar weer teruggegaan na my ou staatmakers: STEVIE WONDER - BRILJANT, FENOMINAAL, I AM NOT WORTHY!!! As ek 'n wens kon hê van wie ek rondom my etenstafel mag hê, sou hy beslis my nommer een eregas wees. Ek dink my mond sal heel aand net oophang. Ek sweer dit sal vir my 'n groter kick wees as om vir Madiba te ontmoet!
En dan, natuurlik: TAKE 6. As jy nog nooit iets van Take 6 gehoor het nie, doen jouself 'n guns en gaan luister na hulle album, SO COOL. Dit sal jou wegblaas. Daai ouens se harmonieë sit soos watsenaam in 'n wolkombers en dit is nie sommer jou gewone garden variety harmonieë nie. Die lead vocalist is frieken frightening. Elke snit is 'n kunswerk!En daar is iets omtrent hulle musiek wat jou op 'n high sit - is seker maar net om absolute briljante perfeksie te ervaar! Ek het ook 'n live recording van hulle saam met Yellowjackets waar hulle "Revelation" sing. Elke liewe harmonie, elke noot is perfek - geen pitching probleme nie - geen auto tuners nie - net BRILJANT!
Bob Carlisle(ja, Butterfly Kisses) het in 1993 'n album vrygestel. Kyk of jy dit êrens op die net kan opspoor en luister na snit 3 "Use Me" Dit is bevange vocals!
Nog 'n gunsteling van my is Nickelback - mal oor hulle produksies
'n Album wat enige ernstige musiekliefhebber in sy versameling moet hê is Al Jarreau se "Jarreau" met songs soos Mornin, Boogie Down - al daai immergoen tunes wat net altyd groove
En dan kan ek nie ophou voordat ek net weer my lojaliteit aan die meester besweer nie: STING. Ek meen daai snare drum sound op "Brand New Day", veral die eerste snit, is om van kaal in die strate rond te hardloop! |
|
RESEPTE
Dit verstom my hoeveel mense op my blok afkom as hulle na resepte soek. Toe dog ek, dis 'n teken - ek is nie verniet mal oor lekker kos en kook nie. Lat ek nou maar van my uitgetoetste resepte deel.Met die dat die restaurante hier in ons omgewing so trietsig is, het ons maar teruggeval op goeie tuisgekookte maaltye. Ons probeer dus gedurig nuwe goed uit. Hieries werk:
Elizabethan pot-roast chicken with spiced plums and creamy leeks.James Martin.
Ek weet die gramme is moeilik, maar ek gebruik maar 'n klein kombuisskaaltjie
Ingredients
2kg/4½lb chicken, preferably free-range
25g/1oz butter
1 large onion, finely chopped
115g/4oz raisins
225g/8oz firm plums, halved, stones removed (gebliktes doen ook)
6 juniper berries, lightly crushed (kry dit by jou spices - by die kerriegoed, andersins by 'n gesondheidswinkel)
1 tsp ground cinnamon
1 tsp ground ginger
pinch freshly grated nutmeg(ook by die kerriegoed - sulke ronde pitterige goed wat mens dan rasper)
runny honey
1 orange, juice only
300ml/11fl oz chicken stock
300ml/11fl oz red wine
few sprigs fresh rosemary
salt and freshly ground black pepper
For the creamy leeks
chicken juices from the pan
25g/1oz butter
1 onion, finely chopped
1 leek, chopped
sprig thyme
55ml/2fl oz single cream
salt and freshly ground black pepper
Method
1. Brown the chicken all over in a non-stick frying pan. Set aside, but reserve the juices in the pan.
2. Preheat the oven to 200C/400F/Gas 6.
3. Heat the butter, onion and raisins in an ovenproof saucepan big enough to hold the chicken, and cook until softened. Add the plums, juniper berries, cinnamon, ginger and nutmeg, and stir through. Drizzle in a little honey and pour in orange juice to taste.
3. Pour in the chicken stock and red wine. Simmer gently for a few minutes, then add a few sprigs of rosemary. Season liberally with salt and freshly ground black pepper.
4. Add the chicken to the pan, place in the preheated oven and cook for about 1½ hours, basting several times. The plums will stew down and create a sauce to go with the chicken. The chicken will be cooked when the juices from the thigh run clear when pierced with a skewer.
5. Meanwhile, for the creamy leek dish, heat the reserved juices in the chicken pan and add the butter. Fry the onion and chopped leek, then add the thyme. Pour the single cream over the leeks and season well with salt and freshly ground black pepper. Heat through for a couple of minutes. Serve with the spicy plum chicken.
Tjops met soetpatats en brie. My eie konkoksie
Bestanddele
My hoeveelhede is relatief. Skat maar na gelang van die hoeveelheid tjops.Die sous is 'n basting vir die tjops.
Ribtjops
Balsamiese Asyn (3 eelepels)
Room (3 eetlepels)
Vars Roosmaryn - net blaartjies(drie takkies)
Ina Paarman se lemon and herb basting sauce (2 eetlepels)
Olyfpasta (drie teelepels)
Sout en peper
Meng al die bg goed saam in 'n plat bak. Plaas tjops daarin en draai om, sodat tjops heeltemal bedek is. Laat lê vir so halfuur.
Oond moet reeds warm wees op grill. Plaas tjops in op rooster in oondpan en grill vir so tien minute aan elke kant en baste met die sous. Tjops moet pienk aan binnekant wees.
Soetpatats met brie
Kook soetpatats tot gaar, maar nie so sag dat dit uitmekaarval nie
Sny die soetpatats dat dit soos middelmatige dikte aartappelskyfies lyk
Pak in 'n plat bak
Skep klonte botter oor
Strooi kaneelsuiker oor
Rasper een appel oor
Giet 'n klein bietjie lemoensap oor
Braai ook onder grill, totdat die soetpatats bruigebraai is en 'n stroperige sous gevorm het
Haal uit en breek brie kaas oor die soetpatats.
Die tjops en soetpatats kan dan saam met vars avocado voorgesit word.
|
|
|
|
|
|