|
Woensdag, 30 Mei 2007
NOMMER DRIE
Moet. My. Nie. In. Koue. Water. Instamp. Nie!
Ek was net so oor die agtien. Pasgetroud.(Daai tyd was saambly nog 'n groot sonde.) Ek en Johann (my eerste man) het saam met 'n klomp vriende gaan kuier op 'n plaas êrens in die bosse (kan nie meer onthou waar nie.)
Die hele doel van die naweek-kuier was 'n staptog na die glygat. 'n Gladde rots waarteen water afgespoel het en mens kon afgly tot in 'n yskoue, helder poel bergwater. Hier sou ons dan piekniek hou, baljaar en afkoel voordat ons die tog terug na die opstal aanpak.
Te lekker. Behalwe dat niemand ons gesê het die glygat is 'n dagreis te perd ver nie - en dit in die versengende hitte. Hoe later hoe kwater en toe ons uiteindelik by die glygat aankom, toe is mamma glad nie meer lekker nie. Ek het beslis sonsteek opgedoen en ek dink ek was gedehidreerd ook. Terwyl almal gillend teen die rots afgegly het, het ek bibberend eenkant gesit myself en jammer kry.
Niemand het my ernstig opgeneem nie en my natuurlik gejou en getart. Ek het toe maar aan die bopunt van die rots gaan sit en die spulletjie dopgehou, maar almal die dood voor die oë gesweer, sou hulle dit waag om my nat te spat.
Die volgende oomblik stamp my eks man my teen die rots af en daar beland ek met my sonsteek en al in die yskoue water.
Toe ek daai water tref, skiet skok en verontwaardiging en woede almal saam soos 'n weerligstraal deur my lyf. Die metamorfose begin en, soos Hulk, voel ek hoe ek stadig verander in iets buite myself. Soos 'n onderwatermonster bars ek, slo motion, uit die water en met een triomfantelike beweging en 'n wraakkreet, pluk ek my bikini-bostuk van my lyf af. Jubelend, soos twee gesonde, huppelende boklammers wat skielik oop grasvelde gesien het, pronk my torso-aanhangsels blink in die son vir almal om te aanskou!
Johann het vreeslik vinnig teen daai klippie afgegly om my onder die water in te druk en die skaamte te verbloem!
Kyk, ek het die ander manne se dag gemaak, maar Johann het twee keer gedink voordat hy met mammie skoorsoek as sy nie lekker is nie.
KOMMENTAAR
Hel, wat `n lekker storie. Het jy jou hand al probeer aan `n boek/storie/roman skryf? Anon.
Mmmmm.......?
Dagsê liewe Amanda. Ek sou graag daai oulike t*tties van jou wou sien. Oom Piet.
Ja, oom Piet, èk ook, glo my, èk ook! Op die ouderdom het ons mos nie meer hang-ups nie....net hang-downs! A.
G'n wonder Johann is nou jou eksman.. Ek sal mos sewe jaar se vasgevangde tierboskatte laat losspring as my man my lyfie in yspiepie moes instamp. Ek love die post, sonder pretensie, net ware vrouwees met af-en-toe se pms.Melanie du Toit.
|