|
Na aanleiding van my rubriek wat maandeliks in die Vonk-tydskrif verskyn. Stuur gerus enige vrae na: amanda@amandaluyt.co.za
KOM LAAT ONS SING!
Gedurende al my jare as sangeres het
ek male sonder tal ervaar hoe mense in 'n ateljee of op 'n verhoog stap,
sonder enige tegniese sangopleiding. Baie mense verkeer onder die illusie
dat sang 'n 100% godgegewe talent is en dat sangonderwysers slegs jou
styl beïnvloed. Daar is niks verder van die waarheid nie. Net soos
enige sportman opgelei en voorberei word om aan kompeterende sport deel
te neem, so is dit die sanger se plig om sy instrument te slyp en as
vaardigheid te vervolmaak.
My kolom is nie bedoel om opleiding te
verskaf nie, maar eerder om praktiese wenke mee te deel. Om jou te prikkel,
sodat jy jou ontdekkingsreis na jou ware potensiaal kan begin.
Jou stem is die direkte uitdrukking van
jou siel. Geen ander instrument is so heg verbind met die menslike,
musikale gedagtes en emosies nie. Hierdie instrument word gehuisves
in jou liggaam en daarom is dit baie belangrik om te verstaan hoe die
stem in harmonie saam met die res van jou liggaam funksioneer.
Jy haal asem om te lewe en dit is ook
die belangrikste aspek van sang. Korrekte asemhaling is die beginpunt
van jou reis. Dit is die basis waarvandaan jy jou stem na ongekende
hoogtes gaan neem.
Doen die vlogende:
Lê op jou bed en plaas die punte van
jou vingers op die onderpunt van jou sternum. Asem in. Voel hoe daar
'n uitwaartse beweging teen jou vingers is. Dit is jou diafragma. Jou
diafragma is vas aan jou ribbekas. Wanneer jy uitgeasem het, lyk hy
amper soos 'n onderstebo ronde bak so twee vingers bo jou sternum. Wanneer
jy inasem, vergroot die ribbekas en dit strek as't ware die diafragma
uit na die kante van jou liggaam. Hoe ver die diafragma strek, hang
af van hoe diep jy asemhaal. Terselfdertyd lig jou ribbekas opwaarts
in 'n "V"-vorm vanaf die rugstring. Jou longe maak oop en
verleng na onder soos wat jou diafragma na onder uitgestrek word. Dit
veroorsaak 'n vakuum en lug vloei deur jou neus en mond na jou longe.
Glo dit of nie, die grootste gedeelte van jou longe lê in jou rugarea
- wanneer jy diep asemhaal gaan die meeste van die lug dus in jou rugarea!
Met hierdie nuwe bewuswording,staan en
haal diep asem. Voel hoe die diafragma na onder en die kante uitstrek
en visualiseer hoe jou ribbekas in die vorm van 'n "V" van
jou rugstring opwaarts, uitwaarts beweeg. Hou hierdie posisie. Word
bewus van hoe dit voel. Maak seker dat jy op geen ander plek in jou
liggaam stres ervaar nie. Dit is slegs vanuit die posisie, terwyl jou
ribbekas oop en uitgestrek is, dat jy kan begin om jou diafragma te
gebruik om die lug te beheer. Die oomblik wanneer jou ribspiere ontspan,
word die longe kleiner en beweeg die diafragma weer na bo en lug word
outomaties uitgestoot. Wat is die effek hiervan op jou stem? Jy
klink asemrig, jy kan nie jou toonskakeuring of toonhoogte beheer nie.
Dit is dus baie belangrik om te leer hoe om jou ribspiere te versterk,
sodat hulle maksimaal in die vorm van 'n "V" uitgestrek bly,
terwyl jou diafragma die uitvloei van jou lug reguleer. Hierdie tegnieke
kan met die hulp van 'n sangonderwyser bemeester word.
ASEMHALINGSOEFENING
Hou jou mond oop en jou keel ontspanne dwarsdeur die oefening.
1. Staan regop en ontspanne, arms langs die sye, palms na vorentoe
2. Maak jou mond effe oop
3. Strek en lig jou arms stadig
langs die sye van jou liggaam tot bo jou kop.
(Jy sal voel hoe lug outomaties invloei soos jy jou arms uit en op strek)
4. Wanneer jou arms bo jou kop is, strek en draai jou arms langs jou wange sodat jou palms nou teenmekaar is
Jy moet die strekking in jou rugarea en nie in jou bors of nek voel nie. Hou jou kop reguit en ontspan jou maagspiere
5. Terwyl jy steeds na bo strek, tel tot 6 in jou kop (hou jou mond oop en keel ontspanne. Moenie in- of uitasem nie)
6. Hou op strek en laat sak jou arms stadig langs jou sye. Jy sal outomaties uitasem soos jy jou arms laat sak
Herhaal hierdie stappe 30 keer
Rus 'n paar minute na elke 10 repetisies
Hierdie oefening moet elke dag gedoen word, vir ten minste een week. Dit behoort omtrent 20 minute te duur. Dit klink miskien eenvoudig, maar jy oefen hierdeur hoe om jou ribspiere
te strek - die spiere wat moet versterk om jou ribbekas in 'n vergrootte
posisie te hou, terwyl jy sing.
Waar vind ek 'n goeie sangonderwyser?
Die beste is om die naaste universiteit of tersiêre inrigting se sangdepartement te skakel en uit te vind wie
die sangondewyser is. Gewoonlik bied die mense ook lesse na-uurs aan,
of sal jy 'n goeie verwysing daar kry. Indien jy in Pretoria-omgewing
is, e-pos my by die onderstaande adres vir uitstekende verwysings. As
jy nie geld het om maandeliks 'n onderwyser te bekostig nie, is opleiding-
cd's natuurlik 'n opsie. Dit is 'n eenmalige uitgawe, maar ek sal dit
nie aanbeveel indien jy 'n beginner is nie. Dit is baie belangrik dat
daar iemand is om te monitor dat jy nie die verkeerde tegnieke aanleer
nie.
|